Corli en Joe se troue was nou vir jou ‘n ware bruilofsfees soos van ouds ….. behalwe dat daar absoluut NIKS “oudtyds” is aan die twee nie! By hierdie troue was daar geen aansit nie. Geen tierlantyntjies nie. Die fokus was volledig op hulle twee se ongekunstelde liefde vir mekaar en die mense vir wie hulle lief is en met wie hulle hul lewens deel. En dis dit. ‘n Vriendin het Corli se hare en grimering gedoen en die res het sy ALLES self gedoen. Die versiering van die saal was als haar idees en alles is handgemaak met die hulp van haar ma en twee sussies. Selfs die blomme het hulle ‘n paar dae voor die troue in die veld gaan pluk en in botteltjies rangskik. Die vetplantjies wat elke gas as geskenkie gekry het, het sy en Joe maande voor die tyd al begin kweek en die hout boksies is deur Joe se pa gemaak. Die foto’s van hulle twee alleen moes voor die troue geneem word sodat hulle nie ‘n minuut se kuier saam met hulle vriende en familie hoef te mis nie. En ook goed so, want die feestelike vegan oestafel waar rondom almal na die seremonie gekoek het was verruklik! Ook die groepfoto’s is tot ‘n absolute en baie praktiese minimum beperk. Verder het hulle my heeltyd aangemaan om op te hou foto’s neem en saam te kuier, want hulle hoef regtig nie ‘n foto van al die detail te hê nie! Nietemin, dit was vir my so lekker om hierdie blye okkasie vas te vang, die vryheid en opregtheid en vrolikheid daarvan. En die feit dat die jongstes onder almal die partytjie oorgeneem het was priceless!! Ek dink nie daar is twee mense wat beter by mekaar pas as die twee nie. Ek kan ook nie dink aan ‘n venue wat meer geskik sou wees as die Nightjar naby Gansbaai nie. En hulle diens was uit die boeke! Wat hier volg is my fotoverhaal van Corli en Joe se spesiale dag. Dis lank en daar’s baie foto’s, maar dis my jongste skoonsus en dis die storie. Geniet dit!
Pragtig Corli and Joe , God Bless ……..Pat & Lyn