Ek het vir Janine en Marcel twee jaar terug ontmoet tydens ons fotosessie toe sy swanger was met Milè. Ek het ook die voorreg gehad om die pragtige klein Milè, oor wie se koms hulle SO opgewonde was, te kon ontmoet en afneem. Ek was dus bitter opgewonde toe Janine my onlangs weer kontak vir swangerskap foto’s. Janine het ook onlangs haar Meestersgraad in belasting gekry, so daar is dubbeld rede vir gelukwense en foto’s! (Hoe sy dit gedoen het met ‘n tweejarige, weet ek nie. Al wat ek weet, is dat ek geweldig beïndruk is met haar deursettingsvermoë!) Milè was as pasgebore babatjie lekker woelig en wou nie veel weet van slaap nie. Al daai persoonlikheid wat opgesluit was in daai kleine lyfie blom nou behoorlik. Sy is die oulikste, dierbaarste dogtertjie wat jy jou kan voorstel! En net so besig soos toe! Sy sal vir my die mooiste glimlaggie gee vir ‘n foto en sekondes later die pad vat en met die wêreld se selfvertroue wegstap. Net om ‘n rukkie later om te draai en ons te roep wat nie by haar byhou nie. Ek het dit so geniet om hierdie lieflike gesin weer af te neem, dit was ‘n reuse voorreg. Hoop julle geniet die foto’s so baie soos ek! 😉
Leave A Comment